Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

13.2.13

Raymond maak sy merk met Bassey se hande

RAYMOND DICKER, gewese fotograaf van Hoofstad en Die Transvaler, skryf: Die stuk deur PG du Plessis oor koerantmanwees (klik hier om te lees) het my teruggevoer na my beginnerdae by Hoofstad.

Ek het in Maart, April 1982 as advertensiefotograaf by dié koerant begin werk. Behalwe vir Hoofstad moes ek ook vir die strooikoerante,
Jakaranda en die verskillende uitgawes van Rekord, foto’s neem.

Shirley Bassey
Toe Johan Kamffer na Rapport toe verskuif het, het sy pos as redaksiefotograaf vakant geraak. Ek het daarom aansoek gedoen en is aangestel.

Sommer die eerste Donderdag nadat ek op die redaksie begin het, het Shirley Bassey by Sun City aangekom vir ‘n vertoning. Daar is 'n perskonferensie gehou om haar optrede aan te kondig en ek is aangewys om dit saam met Johan van Rooyen, die kunsredakteur, by te woon. Die klomp persmense is per vliegtuig van die Randse Lughawe by Germiston na Sun City geneem.

Ek was maar goed op my senuwees, want ek was onervare, veral tussen al die ander koerantfotograwe. Ek het foto’s geneem van haar terwyl sy gepraat het. Haar hande het lekker saamgesels. Ek het toe 'n strook van die foto’s saamgestel wat met groot sukses op die kunsblad en voorblad gebruik is.

PG du Plessis
Die volgende oggend toe ons almal by die teetafel gestaan en tee drink het, kom dok PG na my toe en voor die hele redaksie skud hy my hand en wens my geluk met my foto’s van Shirley Bassey.

"Hulle is beter as enige een van die ander koerante s'n," het hy gesê. "Jy kan haar sien praat op die foto’s. Met iemand soos jy op die redaksie kan ons net voorentoe gaan."

Jissie, man, toe klop my hart darem “tjoklits”!

Ek was bitter spyt die dag toe hy het as redakteur bedank het, want in my oë was hy 'n eersteklas mens. 'n Regte mens-mens.

Gert Hattingh

Danksy Raymond het K’rant ook Gert Hattingh, legendariese fotoredakteur van Die Transvaler en Hoofstad, opgespoor by Mosselbaai, waar hy en sy vrou Marie, wat ook by DT gewerk het, al agt jaar woon. Gert sê op 82 is hy nog fiks en gesond en stap hy daagliks baie kilometers ver. Hy het nog baie ysters in die vuur en werk onder meer aan ‘n boek.

Gert vertel dat hy in ongeveer 1945 of 1946 as bode by Die Ruiter, destyds ‘n publikasie van Voortrekkerpers, aangestel is. Hy het later leerlingfotograaf geword en Willem Dreyer het hom touwys gemaak.

Lucas Maree
Oor destyds se Hoofstad- en Oggendblad-fotograwe skryf Raymond: Ek wonder hoeveel mense daarvan bewus is dat wyle Lucas Maree (van "Ek kan doen met ‘n miljoen"-faam) 'n fotograaf by Oggendblad was dieselfde tyd as Fred de Lange. Ja, Fred was eers fotograaf.

Eric Ströh
Wat die Hoofstad-manne betref, was my kollegas Gert Hattingh die fotoredakteur, Hoffie Hofmeister was die hooffotograaf, en dan was daar Eric Ströh wat ‘n paar jaar gelede aan erge diabetes oorlede is, Cor Gouws (nog voor Eric oorlede) en Derek van der Merwe wat later Windhoek toe getrek het, ek dink na Die Suidwester toe. Nellis van Rensburg (of "Magic Nellis" soos ons hom genoem het vanweë sy kulkunstoertjies) is later na Beeld toe. Hy was goed bevriend met die TV-kulkunstenaar, Martino.